Die woordeboek definieer die woord as wonde of bewyse van wonde wat jy tydens oorlog opgedoen het. Dit kan enige iets wees van ‘n skiet wond, skrapnel wat nog in jou vassit of selfs amputasie. Party woordeboeke gaan tot sover as om Battlescars te beskryf as die emosionele, verstandelike of geestelike wonde wat mens tydens oorlog opgedoen het.

Alhoewel meeste van ons, in vergelyking met die verlede, nie werklik aan ‘n offisiële oorlog deelneem nie, kan ons dus nie sommer ‘n skietwond of skrapnel bewyse lewer nie. Die wêreldoorloë se geskiedenis bedien ons met genoeg gruwel verhale terwyl films dit vir ons keer op keer in beeld oorsit. Nee, as jy gaan lees of net klein bietjie navorsing doen sal jy sien ons het baie om voor dankbaar te wees.
Maar net die ander dag kom ek op die aanhaling af.
“Life is a war field, where your problems are the battles you have to face. You may have scars physically or emotionally but your survival is important. It’s an infinity war, never give up and ignite the fire in you.”
Dit het my laat dink aan die oorlog van die lewe en die battlescars wat mens oor die jare versamel. Dit is eintlik ongelooflik baie. Dink aan die nuuste, jongste babatjie wat jy al vasgehou het. Vir my is daardie “klein” die epitoon van perfeksie. Dan kom die lewe dalk al vroeg, soos lugbomme en saai verwoestig. Soms kom mens lig af, ander kere vernietig hy alles. Ons begin battlescars versamel van die oomblik wat ons, ons oë oopmaak.
Party kan jy sien, ander is onsigbaar.
Ek dink aan my eie wêreld en mense wat daar woon. My pragtige, gesonde ma het ‘n 10cm pers lyn oor haar tietie, ‘n litteken van haar oorlog . Alhoewel die vrees teenwoordig was, het sy van dag een af in die voorste linie met soveel geloof en hoop teen die groot K baklei. Sy het haarself beman met kennis, kerrie en kop-oriëntasie. Sy het gewen. Ten spyte van haar oorwinnig, is die battlescar steeds daar. “n Onaantreklik pers lyn wat haar daagliks herinner aan die oorlog.

Ek verlang na my liewe vriendin. Sy het as jong meisie gesukkel met selfbeeld en self –glo, en met tyd in’n formidable, sterk, invloedryke vrou verander het. ‘n Vrou wat uiteindelik vrede in haarself het.Maar toe skielik haarself in ‘n ander oorlog vind. ‘n Oorlog teen endometriose. ‘n Vyand wat elke jaar maak dat hulle in haar moet sny, ‘n vyand wat vir haar sê dat die groot geskenk van moederskap in die weegskaal kan wees. ‘n Nare vyand wat groot pers wonde op haar magie agter los, sonder ‘n kind wat buite rond hardloop, om die merke te regverdig. Maar ten spyte van hierdie knaende vyand, baklei sy terug. Sy dra haar battlescars met triomf en eer haar liggaam vir alles wat dit haar toelaat om te doen. Sy leer lesse, stel ‘n ongelooflike voorbeeld en besef haar krag, haar “warrior”, haar innerlike leeu in dié oorlog en glo my, sy wen.

Ek bloei vir my vriend in sy oorlog teen depressie. Hoe hy party dae net uit die bed uit kom as ‘n wen sien. Ek dink aan my pel wat skei en gekonfronteer word met sy keuses. Ek dink aan elke ma wat ‘n sny moet dra sodat hul kind gesond in die lewe kan kom en ‘n man wat dan nie ‘n geruïneerde lyf wil hê nie. Ek bewonder elke plooi op my Pa se hande wat ‘n storie van harde werk en verantwoordelikheid teenoor sy gesin kan vertel. Ek respekteer my ouma se lag lyne wat deur die jare se soms valse glimlag moes voor sit.

En ek kyk na my eie lyf. ‘n Liggaam wat my al baie trane gebring het, ‘n liggaam waarmee ek nie altyd gelukkig, in is nie. Die liggaam wat al baie spot en seer gebring het. ‘n Liggaam wat rekmerke het as battlescars in die oorlog tussen vet en maer. ‘n Liggaam wat meer dissipline en harde werk vererg as ander. Maar. In dieselfde asem ‘n liggaam wat my toelaat om te toer, ‘n liggaam wat my toelaat om te dans, ‘n liggaam wat my toelaat om soen te ervaar, ‘n liggaam wat kan lag, kan beweeg kan dryf en kan voel.

My wens is dat ons begin om anders na óns battlescars te kyk. Sien jou lyf as ‘n album. Elke merkie dien as foto wat op die einde jou kunstige biografie word. Rekmerke, plooie, snye en emosionele rowe moet gevier word. Dis deel van wie jy is, dit is ‘n konkrete getuienis dat jy die lewe se oorlog baklei en soms meer as min, eintlik wen. Want jy is die Generaal wat op die tegniek van die oorlog besluit. Wie jou vyande is, kan jy nie kies nie maar jou aanval taktiek is n jou hande. Buitendien dink net hoe kan jy met jou battlescars spog, as die oorlog eendag verby is…..