Blog

Dis die plesier, my dier

Learn to Live in the Moment with these 3 Books | by Sid | The Ascent |  Medium

Dit val my nou die dag by. ‘n Mens droom van die dag wat jy nie hoef te werk nie, wat mens oneindig kan toer of dat jy sal gelukkig wees as jy, uiteindelik,‘n nr 4 broek kan dra. Meeste van dit, in ‘n realistiese sin, sal waarskynlik nooit gebeur nie.  Ons kyk vas in die groot prent van die toekoms en waar mens inpas, hoe jy dan sal voel.  En dan werk mens daarna toe. Moet my nie verkeerd vestaan nie.  Drome is wonderlik.  Dit dien as motivering en hoop.  Maar nes mens kan vassit in die verlede, moet jy passop om nie in die toekoms te verdwaal nie.  Wat van die Nou???

Ja, Nou is dalk nie lekker nie.  Die Nou maak jou bewus van wat jy nie het nie.  Nou fluister in jou hoor oor ‘n teoretiese eendag en more.  Nou kan mens boelie.  Want nou gaan dit nie goed nie.  Maar wat as Nou altyd is??? So net om op te som. Nou boelie, die verlede kerm en die toekoms is soos die flikse stapper in die groep wat net heeltyd voorbly van ‘n afstand af waai en  jou laat wonder of jy ooit gaan inhaal.

Hoe verander mens dan die geblaas in die nek van hierdie drie tye?

Die antwoord lê om bedagsaam te wees oor die klein dinge.  Jy kan nie die groot goed in een dag verander nie.   Behaag jouself in die klein plesiertjies.  Ek reken die Liewe Heer het geweet ons gaan chop op die aarde.  Veral vandag.  So Hy het vir ons die wonderlike geskenke gegee.  Musiek en kos is prominente voorbeelde.  Jou gunsteling liedjie kan jou in stil swye wegvat van die nou, en skielik maak dat wasgoed stryk nie die mees verveligste ding op aarde is nie. ‘n Perfekte happie wat smaak wawiele in jou mond maak, laat mens vergeet dat more weer Maandag is. Het jy al in die aand in jou bed geklim en gevoel hoe jou beddegoed die sonstrale vasgevang het na ‘n dag se hang op die draad. Let op na die verskillende vormpies van blare en hardloop jou vingers oor die teksture van die natuur.  Dis die klein plesiertjies.

Mens moet uit gaan om dit vir jouself lekker te maak.  Behaag in die klein, kortstondige bederfies van die lewe. Spuit jou gunsteling parfuum aan, al loop jy net in die huis rond.  Trek jou mooiste rok aan en sit op die stoep met ‘n glas rooi.  Hou op om jou juwele te bere vir daai eendag se aand uit… dra die goed.   Maak tee in jou oumagrootjie se porselein … nie sy of die koningin gaan gou kom kuier nie.

Sit ‘n toom op Nou se geboelie, en jaag hom tot hy mak raak. Ry die nou uit en vat selfsugtig in elke nou, iets vir jouself! 

August 2014, Paris, Black and White Street Photography - Jean-Philippe  JouveJean-Philippe Jouve

‘n Lid van Littekens

Die woordeboek definieer die woord as wonde of bewyse van wonde wat jy tydens oorlog opgedoen het.  Dit kan enige iets wees van ‘n skiet wond, skrapnel wat nog in jou vassit of selfs amputasie.  Party woordeboeke gaan tot sover as om Battlescars te beskryf as die emosionele, verstandelike of geestelike wonde wat mens tydens oorlog opgedoen het.

Alhoewel  meeste van ons, in vergelyking met die verlede, nie werklik aan ‘n offisiële oorlog deelneem nie, kan ons dus nie sommer ‘n skietwond of skrapnel bewyse lewer nie. Die wêreldoorloë se geskiedenis bedien ons met genoeg gruwel verhale terwyl films dit vir ons keer op keer in beeld oorsit. Nee, as jy gaan lees of net klein bietjie navorsing doen sal jy sien ons het baie om voor dankbaar te wees.

Maar net die ander dag kom ek op die aanhaling af.

“Life is a war field, where your problems are the battles you have to face. You may have scars physically or emotionally but your survival is important.  It’s an infinity war, never give up and ignite the fire in you.”  

Dit het my laat dink aan die oorlog van die lewe en die battlescars wat mens oor die jare versamel.  Dit is eintlik ongelooflik baie.  Dink aan die nuuste, jongste babatjie wat jy al vasgehou het.  Vir my is daardie “klein” die epitoon van perfeksie. Dan kom die lewe dalk al vroeg, soos lugbomme en saai verwoestig.  Soms kom mens lig af, ander kere vernietig hy alles.  Ons begin battlescars versamel van die oomblik wat ons, ons oë oopmaak. 

Party kan jy sien, ander is onsigbaar.

Ek dink aan my eie wêreld en mense wat daar woon.  My pragtige, gesonde ma het ‘n 10cm pers lyn oor haar tietie, ‘n litteken van haar oorlog .  Alhoewel die vrees teenwoordig was, het sy van dag een af in die voorste linie met soveel geloof en hoop teen die groot K baklei.  Sy het haarself beman met kennis, kerrie en kop-oriëntasie.  Sy het gewen.   Ten spyte van haar oorwinnig, is die battlescar steeds daar.  “n Onaantreklik pers lyn wat haar daagliks herinner aan die oorlog.

Ek verlang na my liewe vriendin. Sy het as jong meisie gesukkel met selfbeeld en self –glo, en met tyd in’n formidable, sterk, invloedryke vrou verander het.  ‘n Vrou wat uiteindelik vrede in haarself het.Maar toe skielik haarself in ‘n ander oorlog vind. ‘n Oorlog teen endometriose.  ‘n Vyand wat elke jaar maak dat hulle in haar moet sny, ‘n vyand wat vir haar sê dat die groot geskenk van moederskap in die weegskaal kan wees.  ‘n Nare vyand wat groot pers wonde op haar magie agter los, sonder ‘n kind wat buite rond hardloop, om die merke te regverdig.  Maar ten spyte van hierdie  knaende vyand, baklei sy terug.  Sy dra haar battlescars met triomf en  eer haar liggaam vir alles wat dit haar toelaat om te doen.  Sy leer lesse, stel ‘n ongelooflike voorbeeld  en besef haar krag, haar “warrior”, haar innerlike leeu in dié oorlog en glo my, sy wen.

Ek bloei vir my vriend in sy oorlog teen depressie.  Hoe hy party dae net uit die bed uit kom as ‘n wen sien.   Ek dink aan my pel wat skei en gekonfronteer word met sy keuses.  Ek dink aan elke ma wat ‘n sny moet dra sodat hul kind gesond in die lewe kan kom en ‘n man wat dan nie ‘n geruïneerde lyf wil hê nie.   Ek bewonder elke plooi op my Pa se hande wat ‘n storie van harde werk en verantwoordelikheid  teenoor sy gesin kan vertel.  Ek respekteer my ouma se lag lyne wat deur die jare se soms valse glimlag moes voor sit.

En ek kyk na my eie lyf.  ‘n Liggaam wat my al baie trane gebring het, ‘n liggaam waarmee ek nie altyd gelukkig, in is nie. Die liggaam wat al baie spot en seer gebring het.   ‘n Liggaam wat rekmerke het as battlescars in die oorlog tussen vet en maer. ‘n Liggaam wat meer dissipline en harde werk vererg as ander.  Maar.  In dieselfde asem ‘n liggaam wat my toelaat om te toer, ‘n liggaam wat my toelaat om te dans, ‘n liggaam wat my toelaat om soen te ervaar, ‘n liggaam wat kan lag, kan beweeg kan dryf en kan voel.

My wens is dat ons begin om anders na óns battlescars te kyk.  Sien jou lyf as ‘n album.  Elke merkie dien as foto wat op die einde jou kunstige biografie word. Rekmerke, plooie, snye en emosionele rowe moet gevier word. Dis deel  van wie jy is, dit is ‘n konkrete getuienis dat jy die lewe se oorlog baklei en soms meer as min, eintlik wen. Want jy is die Generaal wat op die tegniek van die oorlog besluit.  Wie jou vyande is, kan jy nie kies nie maar jou aanval taktiek is n jou hande.  Buitendien dink net hoe kan jy met jou battlescars spog, as die oorlog eendag verby is…..

“Your body is a warzone but you are not a ruin.”

Waar is hy?

Waar is hy?

Ek dink aan hom, vergelyk almal met hom

Maar ek weet nie wie hy is nie

Of is hy, ek?

Gebore om eensaamheid te ervaar

Te wonder, te vergelyk, te hoop

Vra, smeek, pleit by die Here?

Wat is Sy plan?

Vertrou ; hoop

Miskien is hierdie my eerste liefdesbrief…

Van baie…

Miskien was A dit.

Miskien moes ek nie in die lewe gewees het nie,

Miskien ‘n ander lewe, ander era

Miskien is 30jaar ‘n fout?

Foute ken ek…

Ek wyk mense weg.

Soveel trane.

Soveel verwerping.

Soveel seer.

Soveel gatvol.

Spyt wat spook.

“wat as’se” regeer.

Wanneer gaan ek daai mens ontmoet waarna ek verlang.

Wanneer gaan ek daai mens ontmoet wat ek in my aangesig sien.

Of was ek al sy, en dis nou verby?

Toneelspel

an empty stage...i can feel it filling with possibility | Theatre stage,  Theatre, Stage design
Is dit my gedagtes wat my bang maak? My suiwer, naak, ongepaste gedagtes 
Of
Is dit jy wat toneelspeel in my gedagtes?
Want jy speel ‘n Oscar performance
En ek?
Ek is die kyker wat meegevoer raak in alles wat jy doen…
So asof ek deel is van jou storie…
En dan...
Dan besef ek jy is die hoofakteur in my denke 
en my hart word jou platform
My gevoelens is jou genre 
Wie het jou die rol gegee?  
Ek het nie besef jy was by die oudisie nie
Alwetend is dit my psige wat die resie skryf.
En my siel wat direkteur.
My kop skree egter
Kan julle my hoor!
Ek wil nie meer nie!
Laat val die gordyn!
Ek is klaar!
En skielik sien ek hoe jy my nader trek
Buig en met ‘n slinkse glimlag;
(Terwyl jy die gehoor aanpor om hande te klap)
Maak jy of ek in beheer is asof ek dit kies
of ???
Was dit ek wat jou al die tyd toegelaat het

Aanvanglikheid van jou “Elastic hart”

elastic heart - digital drawing - YouTube

Aanvangklik was jy presies dit: ‘n aanvangklikheid

Maar toe

Toe gebeur dit onverwags, soos jy sal sê “te vinnig” en jy wys vir my jou siel, jou donker deurmekaar siel. Die donker wat jy met ‘n elke glimlag  probeer uitvee.

Tog

Tog is dit dié komplekse elasme van jou siel wat my na jou toe trek,  wat jy jou maak.  Jy trek na nog en meer.  Hoe elasties is jy? Dit stuur jou na die breekpunt, en dis juis dit.  Jy sterk jouself verder, langer en besef ek….  Dit gaan skiet. Jy kan nie alles bymekaar hou nie. Die rekkie gaan breek en die hoop gaan val.

En ek?

Ek wil jou bagasie uitsorteer. Ek wil jou gevoelens en seer alfabeties rangskik en die choas vir jou netjies in manilla leërs plaas.

Sodat jy…

Weet waar alles is, sodat jy orde het. Sodat jou siel skoon kom.

Dan weer besef ek…

Ek sal my doodwerk, jou elasme is te groot en strek te ver. Ek sal myself keer op keer in ‘n doolhof vind saam met al die ander. Want jy expand te ver, jy rek te wyd uit en almal raak verlore in die verte.

Toe besluit ek

Ek gaan jou net lief hê, sonder of’s maar’s, net as , jy moet’s… net so liefhê met ‘n punt.  Dit is waarin ek goed is.  Organisering en manilla leërs was nog nooit my ding nie… maar onvoorwaardelike liefde is. So ek is daar…. lief hê met ‘n punt en nie met ‘n elastiese ellips nie.

Kompas: As dit Jaaif en ek wonder: Wie is ek? Ek is wie?

Compass clipart 1 » Clipart Station

Dis ‘n goue vraag.  Ek oordink die vraag baie.  Mens kan natuurlik die maklike antwoord gee…  Ek noem dit die kategese antwoord.  Dit is as jy die antwoord gee, wat eenvoudig is, wat jy weet korrek is en wat mense sal verstaan en eintlik wil hoor. Dis soos die vier punte van ‘n kompas.  Almal ken die vier punte se name. Meeste kan vir jou presies se waar dit is ook.

 So hier is my Sondagskool antwoord

My Noord is dat ek ‘n Christen- boerekind is wat kom uit ‘n gesin van vyf. Ek is die oudste.  My ouers is lief vir my en in grootword het  ek niks tekort gehad nie. Ek het ‘n sussie en ook ‘n boetie.  Ons is ‘n gehegte gesin. Ons is grootgemaak in die konvensionele sin.  Jy soengroet en sê asseblief oom en dankie, tannie.

My Oos is dat ek is deur skool was as ‘n redelike gemiddelde leerder. Daarna het ek gaan swot in Stellenbosch.  Na ‘n paar jaar van partytjie het ek ‘n BA graad en Nagraadsonderwys diploma in my sakkie en gevolg met ‘n Kulinêre diploma.  

Suid in my lewe is dat ek bewus is van my foute.  Ek is ongeduldig, kan baie lelik met mense praat en word maklik geirriteerd. Ek weet waar ek my foute gemaak het. Ek is in dieselfde asem ook lief vir mense.  Ek is ‘n ekstrovert en is regterbrein dominant.

Natuurlik is Wes waarna toe ek oppad is, Wat ek vir myself beplan.  As my son eendag sak,  weet ek hoe ek wil wees. Wat ek eendag wil hê.

Dis die vier eenvoudige punte.  Sien maklik.  Maar wat van die rigtings tussen in. Die “Hoe kom mens daar?” “Hoe verander ek dit?” “Hoe maak ek dit reg?” “Wat nou gemaak?” “Waar dedoner is ek?”  Want die lewe kan lekker jaaif.  

Ek het onlangs, eintlik gister, die woord jaaif ontdek. Die woordeboek verduidelik dit as ‘n werkwoord : om van rigting te verander as die seile omslaan. Nou is ek verlief om die woord. (Ek raak vinnig verlief kom ook vinnig oor dit). Maar die woord is gepas want as die lewe jou seile omslaan soos wat hy dikwels doen, verander mens se rigting. Ek het al so baie van rigting verander, my kompas punte moet meer word. In tussen fok ek nie net Noord nie maar sommer soms Noord Noord Suid of Suid Oos Oos.  En dan is daar nog die rigtings in die middel van die tussen. Maar by die intussen, terwyl seile omslaan en rigtings verander…Probeer ek alles.


Follow My Blog

Get new content delivered directly to your inbox.

%d bloggers like this: